Gesond leef heel bo aan lys vir nuwe jaar
2010-12-31 08:47
Die Burger
Johannesburg – Hou op rook en drink, verloor gewig en word fiks. Dit is die vier gewildste Nuwejaarsvoornemens van mense wêreldwyd.
Volgens www.listverse.com sal dit in 2011 vir mense belangrik wees om tyd vir hul geliefdes te maak en tot ander se welstand by te dra. Ander Nuwejaarsvoornemens is om liefde te vind en iets nuuts te leer.
Die sanger Anna Davel, akteur Waldemar Schultz en TV-aanbieder Tammy-Ann Fortuin sê hulle wil in die nuwe jaar na hul gesondheid omsien.
Davel het gesê haar voornemens hou gewoonlik nie lank nie. “Ek het elke Januarie die voorneme om by ’n gym aan te sluit en elke middel Januarie duik dié idee in die hek. Maar ek wil dit rêrig in 2011 doen.”
Davel wil in die komende jaar ook nuwe liedjies skryf.
Schultz – Jan-Hendrik Terreblanche in 7de Laan – het gesê hy gaan begin fietsry. “As ’n mens oor 40 is, moet jy die lyf in toom begin hou. So, ek ry maar fiets om die spaarwiel wat ek deesdae met my saamdra, af te skud.
“En natuurlik wil ek dié jaar weer lag soos ’n kind. Ek het altyd. Maar die afgelope tien jaar se druk lewe het my lag gesteel.”
Schultz het gesê hy gaan ook wat sy beroep betref meer kanse in die nuwe jaar waag.
Fortuin, aanbieder van die TV-program Roer!, maak nie Nuwejaarsvoornemens nie.
“Dit hou net nooit. Maar dié jaar moet ek gesonder begin leef. Ek sal veral harder begin oefen en probeer om net gesonde kos te eet.”
Elana Afrika, radio- en TV-aanbieder, wil haar talente in die gemeenskap terugploeg.
Sy beplan om die Pick n Pay-Argus-fietstoer te ry om geld vir vyf liefdadigheidsorganisasies in te samel. Sy gaan ook in Januarie en Februarie in Israel bly “om sosiale investeringstrategieë te leer”.
Johan Stemmet, aanbieder van Noot vir Noot, wil wegdoen met lang lyste voornemens.
Elma Postma, aanbieder van Boer Soek ’n Vrou, wil in 2011 minder konsentreer op maer word.
“Ek wil 2011 geniet en my minder oor onnodige dinge bekommer. Daarby gaan ek ’n kookboek koop en hom deurwerk sodat ek ’n slag kan leer kook.”
Desiré Manthey, Binnelanders se Daleen, wil haar hand op papier waag. “Ek sou graag ’n toneelstuk wil skryf. En miskien ’n marathon of twee hardloop. Verlede jaar het ek begin draf en dink daaraan om dit verder te neem.”
Vir Bobby van Jaarsveld gaan 2011 ’n groot jaar wees. Hy glo nie aan Nuwejaarsvoornemens nie, maar gaan dié jaar met Annatjie Rheeders trou.
“Daarom is dit my voorneme om ’n goeie man te wees vir Annatjie. En natuurlik wil ek ’n paar nuwe liedjies skryf.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger