Gesoekte misdadiger skiet polisieman
2011-09-22 16:56
Johannesburg – 'n Gesoekte misdadiger het 'n polisiebeampte wat hom in hegtenis wou neem, in Alexandra, Johannesburg, geskiet en gewond.
Die polisie het op 'n wenk reageer en die man omstreeks 19:00 Woensdagaand in 'n straat genader, het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
Die man het verskeie skote afgevuur en 'n polisieman in die bolyf getref voor hy weggehardloop het.
Die polisiebeampte is in die hospitaal opgeneem.
Tsinyane het gesê die gewapende man word gesoek nadat hy 'n ander polisiebeampte in Julie in dieselfde township gewond het. Die polisie wou hom toe ook in hegtenis neem toe hy op hulle geskiet en weggehardloop het.
'n Saak van poging tot moord word ondersoek. Die man is steeds op vrye voet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA