Geskorste soldate sit tuis en kry miljoene
2010-05-10 08:06
Erika Gibson
Pretoria - Die weermag betaal die afgelope agt maande meer as R5 miljoen per maand aan geskorste soldate wat by die huis sit.
Hierdie soldate het uit protes teen swak vergoeding na die Uniegebou opgeruk.
Dit beteken dat die weermag reeds R41,3 miljoen aan soldate bestee het wat vir hom geen diens in dié tyd gelewer het nie.
As die hofsaak weens hul skorsing en die hooggeregshof-interdik teen die skorsing vir nog 18 maande voortsleep, gaan dit die weermag meer as R100 miljoen kos aan soldate wat vir hom in dié tyd niks beteken het nie.
Volgens adv. Pikkie Greeff van die SA Nasionale Weermagunie (Sanwu) het die weermag verlede jaar juis daarop aangedring om die betrokke soldate na ’n siviele hof te neem omdat die militêre regsproses te stadig sou wees.
“ ’n Militêre hof wat sy werk behoorlik doen, sou egter lank reeds die saak kon afhandel. Die minister (Lindiwe Sisulu, minister van verdediging) het ook aangevoer dat die saak ‘in nasionale veiligheidsbelang’ in die siviele howe gevoer word, maar nou gaan die saak die belastingbetaler meer as R100 miljoen kos as dit tot twee jaar neem om af te handel,” het Greeff gesê.
Aanvanklik is 1 200 soldate ná die protesoptog geskors.
Die hof het die optog onwettig verklaar, maar toe was die soldate reeds in Pretoria saamgetrek. Toe hulle vervolgens buite die Uniegebou saamgetrek het, waar verteenwoordigers hulle oor die hofuitspraak sou inlig, het die polisie met rubberkoeëls op hulle geskiet.
Die weermag het agterna gesê die 1 200 uit nagenoeg 3 000 soldate wat opgeruk het, is “positief geïdentifiseer” as belhamels van die optog.
Volgens Greeff is daar geen duidelikheid oor hoekom net 861 tans steeds met verlof is nie.
Ná die voorval is soldate wat met amptelike pligte elders ontplooi was, ook ingelig dat hulle geskors is omdat hulle op die bepaalde dag nie by hul werk was nie.
Die meeste van die geskorstes (298) is van 2 SA Infanteriebataljon (2 SAI, Zeerust), 200 van 10 SAI in Mafikeng, 130 van 4 SAI in Middelburg en 108 van 21 SAI in Johannesburg.
Volgens Greeff moet deeltydse soldate nou ingeroep word om te help en die weermag betaal dus vir ekstra soldate terwyl honderde by die huis sit. “Die weermag se manier om dié saak te hanteer, gaan hom en die belastingbetaler dúúr te staan kom.”
- Die Burger