Geskorste DG is kabinet se nuwe segsman
2011-02-03 09:30
Beeld
Johannesburg - Jimmy Manyi, omstrede geskorste direkteur-generaal (DG) van arbeid, is Woensdag vanuit die bloute en terwyl hy by die huis gesit het, as die kabinet se nuwe woordvoerder aangestel.
Manyi, wat bekend is vir sy radikale standpunte oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, het dié strategiese posisie onmiddellik by Themba Maseko oorgeneem.
Maseko was sedert Junie 2006 DG van die regering se inligtings-en-kommunikasiediens (GCIS).
Dit het Maandag in dié departement gegons oor sy skielike herontplooiing as die nuwe DG van staatsdiens en administrasie.
Collins Chabane, minister in die presidensie, se kantoor het egter volgehou Maseko het “gevra” om herontplooi te word.
Manyi het aan Beeld bevestig hy was op spesiale verlof toe hy die boodskap oor sy aanstelling ontvang het.
Hy wou nie sê of dit ’n verrassing was nie.
“Ek is opgewonde en beskeie oor die verantwoordelikheid wat nou op my skouers rus. Ek sien daarna uit.”
Hy dien steeds as die president van die Black Management Forum (BMF), ’n organisasie vir swart sakelui.
Manyi het as DG van arbeid verseg om as BMF-president te bedank ongeag besware dat dit op ’n belangebotsing afstuur.
“Maar ek het genoeg van dié debat gehad. Dis nie belangrik nie. Ek wil eerder op die regering se Nuwe Ekonomiese Groeipad konsentreer en hoe Suid-Afrikaners daarby kan betrokke raak,” het hy Woensdag gesê.
Harold Maloka, Chabane se woordvoerder, het toegegee die aankondiging is ’n “verrassing.
“Maar hy (Manyi) is gekies omdat hy die werk kan doen. Die regering het die volste vertroue in hom.”
Hy het geweier om kommentaar te lewer oor of die regering met Manyi se BMF-presidentskap geneë is.
Membathisi Mdladlana, voormalige minister van arbeid, het Manyi in Junie verlede jaar as DG geskors weens sy optrede tydens ’n vergadering met Tor Christian-Hildan, Noorse ambassadeur.
Manyi het glo tydens die vergadering aangebied om Noorse beleggers in die land met saketransaksies te “help”, veral met die swartbemagtigingsaspekte daarvan.
Hy was vroeër voorsitter van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming en het destyds die omstrede uitlating gemaak dat wit vroue nie uit gelykheidswetgewing moet voordeel trek nie en dat daar te veel wit mense en Indiërs in senior bestuursposte in die private sektor is.
Intussen is daar verskeie gerugte oor Maseko se skuif.
Volgens ’n ingeligte wil dit voorkom of die huidige kabinet Maseko, wat deur die Mbeki-kabinet aangestel is, nie vertrou nie en dat daar ongelukkigheid oor die regering se voortdurende swak kommunikasie is.
’n Ander bron het beaam politiek het ’n rol gespeel, maar gesê Maseko se nuwe werk is uitdagend.
“Dis ’n groter departement en die pos was oop, dus kan dit ’n goeie skuif wees.”