Geskorste ANCYL-man kap Malema
2011-10-03 17:01
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga (ANCYL), het onder skoot gekom van Mthandeni Dlungwane, voorsitter van die ANCYL in KwaZulu-Natal, oor sy leierskapstyl.
“Hy (Malema) kan nie toegelaat word om die organisasie te bestuur asof hy sy familietrust bestuur nie,” het Dlungwane Maandag gesê.
Die ANCYL het Sondag aangekondig die tak in KwaZulu-Natal se uitvoerende komitee is ontbind. Die provinsiale leierskap is daarvan beskuldig dat hulle lede aangemoedig het om besluite wat deur die nasionale struktuur gemaak is, te verontagsaam.
Dlungwane het egter gesê die komitee is ontbind omdat hulle President Jacob Zuma ondersteun het om vir ‘n tweede termyn te dien.
Hy het ook gesê leiers in KwaZulu-Natal is geteiken omdat hulle geweier het om lede te mobiliseer om Malema te ondersteun toe hy voor ‘n dissiplinêre komitee van die ANC verskyn het.
Volgens Dlungwane is dit kommerwekkend dat die ANCYL deur sommige gebruik word vir persoonlike gewin en dat dit “nie soos ‘n trust bestuur moet word nie”.
Luidens onlangse berigte beskik Malema oor ‘n familietrust wat sy swierige leefstyl finansier.
Die ontbinde komitee in KwaZulu-Natal sou Maandagmiddag in Durban vergader, het Dlungwane gesê.
“Ons gaan ‘n vergadering hou om te bespreek wat ons gaan doen ná die ontbinding van die PUK.”
Dlungwane het gesê hulle is nie formeel van die besluit ingelig nie.
“Ons sien in die koerante en hoor op radiostasies dat ons ontbind is. Ek is nog my kantoor soos ons praat,” het hy Maandagoggend gesê.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANCYL, het Sondag gesê die interne dissiplinêre klagtes sal teen Dlungwane, die voormalige adjunk-sekretaris, Sboniso Duma, en die voormalige tesourier, Yolanda Young, aanhangig gemaak word.
Dlungwane het die ANCYL se nasionale leiers daarvan beskuldig dat hulle baat vind by die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NJA).
“Al wat hulle wil hê, is om multi-miljoenêrs te wees. Ons weet sommige van die ANCYL-leiers het kontrakte met die NJA.”
Malema was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA