Geskiedkundige hartprosedure in Kaapstad uitgevoer
2013-01-09 17:58
Johannesburg – Dokters het ‘n geskiedkundige hartprosedure op ‘n 59-jarige vrou in Kaapstad uitgevoer, het Mediclinic SA Woensdag gesê.
Hulle het Saterdag die wêreld se eerste nie-chirurgiese prosedure op ‘n lekkende hartklep op Marianna Cronje uitgevoer. Sy is gebore met haar hart aan die regterkant van haar bors.
“Hierdie prosedure is tegnies ongelooflik moeilik in ‘n pasiënt met 'n normale anatomie en is nog nooit vantevore op iemand met [‘n hart aan die regterkant van die bors] uitgevoer nie,” het Hellmuth Weich, die kardioloog, gesê.
Twee kenners van Lausanne in Switserland het Weich en sy span tydens die prosedure bygestaan.
Die hele prosedure is deur ‘n klein opening wat met 'n naald in die pasiënt se lies gemaak is, gedoen, het Weich gesê.
Cronje, wat van Stellenbosch is, het rumatiekkoors gehad toe sy jonk was en het reeds vier opehartoperasies in die afgelope 40 jaar ondergaan. Die laaste een was in 2000, het Weich gesê.
Toe haar hartklep begin lek het, kon dokters haar nie weer opereer nie en haar toestand het agteruitgegaan tot op die punt waar sy niks meer vir haarself kon doen nie.
Hy sê twee toestelle wat gebruik word om geboortedefekte in kinderharte te herstel is gebruik om die lek te herstel.
Volgens Weich het die prosedure, wat ses uur geneem het, goed verloop en Cronje “herstel stadig”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA