Gesin van vier sterf in botsing op N1
2012-12-10 16:30
Bloemfontein – 'n Gesin van vier is dood in 'n ongeluk op die N1 naby Ventersburg, het die polisie Maandag gesê.
Ses mense, 'n gesin van Doebai, in 'n tweede voertuig is beseer in die ongeluk wat sowat 15 km buite Ventersburg in die rigting van Winburg plaasgevind het, het sers. Mamello Macheoane, polisiewoordvoerder, gesê.
Die bestuurder van die BMW (55), sy vrou en hul twee seuns was op pad na Johannesburg toe hul voertuig omgeslaan en teen 'n Toyota Raider-dubbelkajuitbakkie, waarin die gesin van Doebai gery het, gebots het.
Al die insittendes van die BMW is dood en al ses mense wat in die bakkie gery het, is na die Welkom-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA