Gesin op wynplaas oorval en beroof
2010-06-26 09:30
Die Burger
Stellenbosch - ’n Gesin is Donderdagaand op hul wynplaas buite dié dorp deur ses gewapende mans oorval, vasgebind en onder meer van vuurwapens en R850 000 se goedere beroof.
Die ses rowers het die gesin – ’n man, sy vrou en hul twee seuns – omstreeks 21:15 oorval terwyl hulle TV gekyk het.
Kapt. René Matthee, polisiewoordvoerder in Stellenbosch, het gesê die mans se gesigte was bedek en hulle het handskoene gedra.
Die gesin se name is nie bekend gemaak is nie.
Die rowers het toegang tot die huis gekry deur ’n skuifdeur wat nie gesluit was nie.
“Die gesin is met messe gedreig en gedwing om die kluis se sleutels te oorhandig. Daarna is hulle met gordels en toue vasgemaak en in die badkamer toegesluit,” het Matthee gesê.
Die rowers het met vyf vuurwapens, selfone, juweliersware, twee skootrekenaars, ’n digitale kamera en ses kameralense ter waarde van R850 000 weggekom.
“Die slagoffers kon daarin slaag om hulself los te maak en het die polisie ontbied.”
Volgens Matthee het die mans met mekaar in Engels met ’n buitelandse aksent gepraat.
’n Polisiehelikopter en die honde-eenheid is ingeroep om die gebied te deursoek.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting kan speurder Ncedo Gwama van die Stellenbosch-polisie by 021 809 9140 of 083 402 8415 bel.
In nog ’n onlangse voorval op ’n wynplaas langs die Polkadraaipad is wyn uit ’n kelder gesteel.
Die polisie het gesê omdat daar weens die vakansie minder mense op die dorp is, word die buitewyke in die visier gestel.
“Omdat studente nou weens ’n ekstra lang Wêreldbeker-vakansie nie in die dorp is nie, het misdaad in die sakekern en op die kampus afgeneem omdat daar minder besittings soos selfone en skootrekenaars is om te steel.
“Die misdadigers konsentreer nou op die buitewyke van die dorp om minder sigbaar te wees,” het kol. Billy Jones, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger