Gesin op kleinhoewe vermoor
2011-10-03 12:00
Johannesburg – 'n Gesin van drie, insluitend 'n 13-jarige seun, is op hul kleinhoewe in Walkerville, suid van Johannesburg, doodgeskiet, het Beeld berig.
Kapt. Shado Mashobane het gesê daar word vermoed dat die seun se ma verkrag is voor sy doodgeskiet is.
Die seun en sy pa is teregstellingstyl doodgeskiet.
Die polisie het die lyke van die gesin Sondag gevind nadat hul verlate motor in Orange Grove gevind is.
Die lyk van Giraldine Vaina (46) is in die hoofslaapkamer gevind, terwyl haar man, Tony Vaina (50), in die voorkamer doodgeskiet is. Hy is op sy maag gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is.
Amaro Vaina (13) se lyk is in die bad gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is. Hy was 'n gr.7-leerder aan die Linmeyer Primêre Skool.
Sy pa was die eienaar van MSV Tooling in Germiston.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter