Gesin in huis oorval, twee verdagtes doodgeskiet
2011-07-25 17:05
Johannesburg – Twee van ses mans wat na bewering by 'n huis in Mondeor, Johannesburg, ingebreek het, is deur die polisie doodgeskiet, het die polisie Maandag gesê.
Ses mans het omstreeks 06:00 by 'n huis in Thaba Nchustraat in Glenvista ingebreek en 'n paartjie en hul drie kinders met vuurwapens in die huis aangehou, het kapt. Katlego Mogale gesê.
Mogale het gesê die polisie is na die toneel ontbied.
"Met die polisie se aankoms het die vermeende rowers reeds gevlug. Niemand is beseer nie en niks is uit die huis gesteel nie."
Nadat die polisie beskrywings van die verdagtes gegee is, het hulle in die gebied rondgesoek. Hulle het afgekom op twee mans wat in die straat agter die huis, waar hulle ingebreek het, gestap het, het Mogale gesê.
Mogale het gesê die polisie het die mans voorgekeer om hulle te ondervra, maar een van hulle het 'n vuurwapen op die polisiebeamptes gerig.
"'n Stoeiery het ontstaan toe 'n polisiebeampte die vuurwapen by die man wou afneem."
Albei mans is toe deur die polisiebeamptes doodgeskiet.
Een van die polisiebeamptes het 'n ligte besering aan sy gewrig opgedoen.
Mogale het gesê verdere ondersoeke het getoon dat die mans ure tevore by twee huise in dieselfde omgewing ingebreek het.
'n Saak van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie word ondersoek.
Vier verdagtes is nog op vrye voet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA