Gemengde reaksie op loonaankondiging
2013-02-05 07:10
Kaapstad – Die aankondiging van 'n nuwe minimumloon vir plaaswerkers het gemengde reaksie onder rolspelers in die Wes-Kaap ontlok.
Mildred Oliphant, minister van arbeid, het Maandagmiddag 'n nuwe minimumloon vir plaaswerkers bekendgemaak ná wydverspreide stakings in veral die Wes-Kaap vroeër vanjaar en aan die einde van 2012.
Die nuwe minimumloon is vasgestel op R105 per dag, of R525 per week, wat neerkom op ongeveer R11,66 per uur. Dit is 'n maandelikse salaris van R2274,82. Die bedrag sal van 1 Maart van krag wees.
Lone sal in "die tweede en derde jaar met VPI... plus 1,5 persent verhoog," het Oliphant gesê.
Die Kaapse Sakekamer het volgens RSG gesê die nuwe sektorale vasstelling is nie volhoubaar nie, veral nie vir klein en opkomende boere nie.
'n Arbeidsontleder, Michael Bagraim, het gesê baie boere sal hulle tot meganisasie en die gebruik van slegs permanente werkers wend om koste te sny.
Die provinsiale minister, Gerrit van Rensburg, het op sy beurt gesê dit bring 'n einde aan 'n voorgeskrewe regsproses. Hy het egter sy kommer uitgespreek oor hoe kleiner en nuwe boerderye op die nuwe arbeidskoste sal reageer.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.