Gemeenskapslede slaan man dood
2011-10-14 22:04
bloemfontein – Nege mense, onderandere ‘n stadsraadlid, is in
Qwaqwa op aanklagte van moord in hegtenis geneem nadat hulle ‘n man aangeval en
doodgeslaan het.
Sersant Mmako Mophiring sê die polisie in
Makwane het ‘n stadsraadlid en agt ander mense in hegtenis geneem nadat hulle ‘n
man Donderdagaand vermoor het.
Die man, klaarblyklik ‘n vreemdeling in die
area, het Donderdagaand by ‘n vrou van die gemeenskap se huis aangeklop.
Haar familie het wakker geword van die geklop
en een van haar kinders het by die venster uitgeklim om hulp te gaan soek.
Volgens Mophiring het haar bure en ander lede
van die gemeenskap uit hul huise gekom om die familie by te staan.
Die man het probeer weghardloop, maar hulle
het hul honde op hom losgelaat en hy is gevang.
Daarna het die groep mense die man met toue
vasgebind en doodgeslaan.
Familielede van die vrou by wie se huis hy
aangeklop het, was onder die wat in hegtenis geneem is.
Die groep sal Maandag voor die Makwane
landroshof op aanklagte van moord verskyn.
Die identiteit van die man is nog nie bekend
gemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA