Gemeenskap slaan vermeende inbreker dood
2011-07-21 21:46
Johannesburg – ‘n Skare het ‘n jong man Donderdag doodgeslaan nadat hy na bewering by ‘n huis in Orange Farm ingebreek het, het die polisie gesê.
Volgens kapt. Johannes Motsiri het ‘n buurman die 19-jarige man betrap toe hy ‘n huis verlaat het waarby hy ingebreek het.
“Hy het blykbaar die gesteelde goedere in ‘n vullisdrom gesit wat hy by die huis gevind het. Hy het ‘n televisiestel, ‘n DVD-speler, ‘n klankversterker en ‘n mikrogolfoond gesteel,” het Motsiri gesê.
Die buurman het ander inwoners van die inbraak in kennis gestel. Hulle het hom toe agternagesit en doodgeslaan.
Volgens Motsiri is die polisie deur die eienaar van die huis gekontak, nadat die man reeds doodgeslaan is.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA