Geldtekort staak Malema-ondersoek
2011-08-28 11:00
Johannesburg – Verskeie ondersoeke na korrupsie, insluitend dié van Julius Malema, is weens 'n geldtekort op ys geplaas, het adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer (OB), volgens die Sunday Independent gesê.
Madonsela het bevestig dat verteenwoordigers van haar kantoor vandeesweek met die nasionale tesourie vergader het om aansoek te doen vir "noodbefondsing" van R30 miljoen om salarisse en operasionele uitgawes vir nog ondersoeke te dek.
Sy het aan die koerant gesê terwyl ondersoeke na dienslewering voortgaan, is verskeie ondersoeke weens 'n tekort aan hulpbronne gestaak.
Ingevolge die Wet op die Openbare Beskermer mag Madonsela die hulp van ander staatsliggame soos die Valke versoek, maar sy het gesê ander ondersoekafdelings se geld is ook min.
Die tesourie sal later 'n volledige oudit van die OB se kantoor doen en kyk na die begroting en toenemende verantwoordelikhede.
Kershia Singh, woordvoerder van die tesourie, het gesê die departement van finansies gaan nie die versoeke bespreek nie, maar alle aanpassings sal in Oktober in die parlement aangekondig word.
– Volg Nuus24 op Twitter