Geld vir Nkandla kom van verskeie bronne
2012-11-21 09:22
Johannesburg – Bewyse in Schabir Shaik se bedrog- en korrupsieverhoor het onthul waar van die geld vir pres. Jacob Zuma se huis in Nkandla vandaan gekom het, het Beeld Woensdag berig.
Shaik, Zuma se voormalige finansiële raadgewer, het volgens die koerant Franse wapenvervaardigers gevra vir omkoopgeld, vermoedelik om Zuma te help met befondsing vir die ontwikkeling van sy huis.
Gedurende Shaik se verhoor, wat in 2005 geëindig het, het Jan van der Walt van KPMG getuig dat geld van verskeie derdeparty-bronne verkry is om Zuma te help om R1,3 miljoen vir 'n "kulturele nedersetting" te betaal.
Volgens ander getuienis het Bohlabela Wheels betalings wat sowat R140 000 beloop, gemaak aan die maatskappy wat bouwerk by Nkandla doen.
Verdere bewyse het onthul dat die sakeman Vivian Reddy R400 000 aan Zuma geleen het, wat Zuma toe in staat gestel het om 'n huislening van R900 000 van FNB te kry.
Tydens Shaik se verhoor in die Durbanse hooggeregshof, het dit aan die lig gekom dat Reddy in 2003 en 2004 ook verantwoordelik was vir die betaling van die lening.
Volgens getuienis het 'n FNB-beampte glo in 'n e-pos gesê: "Ek is oortuig daarvan dat die regte owerhede ons sal help om die reëls 'n bietjie aan te pas".
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA