Geld van Ratanang-trust direk na Malema
2012-12-09 10:48
Johannesburg – Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, het fondse van die Ratanang-familietrust na bewering tot sy eie voordeel gebruik, het die Sunday Independent berig.
Ongeveer R6 miljoen van die geld wat in die Ratanang-familietrust se rekening gedeponeer is, is uitbetaal, en Malema was glo die enigste een wat daaroor beheer gehad het, het 'n forensiese ouditverslag van PricewaterhouseCoopers getoon.
Die verslag het volgens die koerant getoon "R5,7 miljoen van die geld wat in die Ratanang-familietrust se bankrekening gedeponeer is, is uitbetaal met 166 tjeks".
Die verslag is deur die ouditeur Trevor White vir die nasionale tesourie saamgestel, en is aan die teenkorrupsie-taakspan, wat die Valke, die batebeslagleggingseenheid, die spesiale ondersoekeenheid en die nasionale vervolgingsgesag insluit, voorgelê.
White was van mening dat die Ratanang-familietrust deur Malema geskep is as 'n manier om geld te verskuif wat "in baie gevalle" van kontrakteurs ontvang is wat vir Limpopo gewerk het.
Die doel was volgens die verslag om die bron van die fondse te versteek.
Malema het die geld skynbaar gebruik om persoonlike aankope te doen, insluitend bykans R380 000 se ontwerpersklere. Sowat R200 000 is ook na sy persoonlike bankrekening oorbetaal.
Die trust is aanvanklik geskep ten bate van sy seun, het die koerant berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA