Geïntegreerde polisiemag oppad
2009-10-10 14:43
Johannesburg – Suid-Afrika se metropolisiediens gaan geïntegreer word met die SA polisiediens om “een super polisiemag” te vorm, het ‘n woordvoerder van die polisiedepartement Saterdag gesê.
Die projek, onder leiding van die minister van polisie, Fikile Mbalula, gaan beteken dat die SAPS in ‘n millitêre mag verander gaan word, met millitêre range en dissipline, het woordvoerder Paena Galane gesê.
“Ons het een enkele sterk polisiemag nodig, met alle polisiehulpbronne wat vir dieselfde doel gebruik word.”
Hy het gesê dat dit ‘n mors van die staat se hulpbronne is om metropolisielede te hê wat mense in hegtenis neem, maar dan die sake aan die SAPS moet oorhandig vir verdere ondersoek en hofprosedures.
“Die metropolisie het baie hulpbronne, maar hulle hanteer nie dossiere nie. Hulle getuig nie in die hof nie. Nou probeer ons om al die polisiemagte wat ons het op ‘n meer gekoördineerde wyse te gebruik om die geveg teen misdaad te wen,” het Galane verduidelik.
Om metropolisie-departemente in elke dorp in die land te hê, het tot onnodige publieke verwarring gelei, het hy gesê.
Die besluit gaan ook saam met die ANC se voornemens wat in Polokwane gemaak is om ‘n enkele polisiediens te vestig.
Volgens Galane word die inisiatief nog intern bespreek.
“Die departement gaan binnekort met regsadviseurs ontmoet om beleid rakende die saak te bespreek.”
Die Saturday Star het Mbalula aangehaal waar hy gesê het dat polisie-opleiding sal moet verander om die “polisiediens” in ‘n “mag” te verander.
Hy het ook die huidige polisierange gekritiseer deur te sê dat dit te burgerlik is.
“Niks gaan verander nie, behalwe dat ons ‘n polisiemag ontwikkel,” het Mbalula gesê.
- Sapa