Geen woord gerep oor Motlanthe se private straler
2012-10-24 12:32
Johannesburg – Die departement van verdediging wou nie kommentaar lewer op 'n berig dat hy miljoene rande betaal het vir 'n private straler om adj.pres. Kgalema Motlanthe rond te vlieg nie.
"Ons bespreek nie die vervoer van baie belangrik persone (BBP's) nie," het Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement, gesê.
Eyewitness News (EWN) het Woensdag berig dat Motlanthe vroeër vandeesmaand op 'n private Boeing 727 na Italië gevlieg het – ten spyte daarvan dat die land genoeg vliegtuie het.
'n Foto wat op 'n regeringswebblad geplaas is, wys hoe Motlanthe en sy lewensmaat, Gugu Mtshali, uit die vliegtuig klim.
Volgens EWN behoort die vliegtuig aan die ANC-ondersteuner en wapenhandelaar Ivor Ichikowitz.
Dit is dieselfde vliegtuig wat verlede jaar gebruik is om pres. Jacob Zuma na die Verenigde Nasies se algemene vergadering te vervoer.
Daar is ook berig dat 'n amptelike Falcon 50, een van die lugmag se BBP-vloot, verlede week gebruik is om Nkosazana Dlamini-Zuma, voorsitter van die Afrika-unie se kommissie, na Addis Ababa in Ethiopië te vlieg.
Dlamini het bevestig dat Dlamini-Zuma in 'n staatsvliegtuig vervoer is, ten spyte daarvan dat sy nie meer 'n kabinetsminister is nie.
"Die vlug was 'n amptelike taak. Dit was 'n gebaar aan die AU en 'n bydrae deur die Suid-Afrikaanse regering."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA