Geen verdagte in moord op klubeienaar
2012-02-09 09:01
Kaapstad – Die polisie het nog geen verdagte in die moordsaak van die Groenpuntse nagklub-baas nie.
Bruno Bronn, eienaar van die bekende Bronx-nagklub in Groenpunt en oorspronklik van Bloemfontein, is Dinsdag dood in sy huis in Groenpunt aangetref. Hy is na bewering aangerand en verwurg.
Die polisie wou egter nie bevestig hoe hy dood is nie, en het gesê ’n lykskouing sal gehou word om die presiese oorsaak te bepaal.
Daar word beweer dat Bronn die laaste paar maande gedreig is.
Die polisie het Woensdag bevestig dat Bronn se selfoon en sy skootrekenaar vermis word. Hulle kon egter nie sê of sy BMW gesteel is nie.
Bure het Dinsdag gesê daar was twee mans saam met hom in die huis voordat hy vermoor is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger