Geen verband tussen haatlied en moord, sê ANC
2010-04-06 05:49
Johannesburg – Julius Malema se gebruik van die tradisionele ANC-struggle-liedjie met die frase "skiet die boere" hou nie verband met die moord op Eugene Terre'Blanche nie, het die ANC Maandag gesê.
"Die ANC is bekommerd oor die gedurige uitlatings deur sommige politieke partye, veral die AWB, VF+ en AfriForum, wat die moord met Malema se gebruik van die struggle-liedjie 'Ayesaba amagwala' (lafaards hardloop) by onlangse openbare byeenkomste verbind," het die ANC-woordvoerder Jackson Mthembu in 'n verklaring gesê.
Hy het gesê alle bewerings dat swartmense mense van enige ander ras, veral witmense, leed wil aandoen, is "ongegrond en onwaar".
Mthembu het gesê die polisie kon geen verband tussen die gebruik van die lied en die moord op Terre'Blanche bevestig gedurende hulle voorlopige ondersoek na die saak nie.
Terre'Blanche is Saterdag vermoor ná 'n beweerde loongeskil met twee van sy plaaswerkers.
'n 21-jarige man en 'n seun, 15, is in hegtenis geneem vir die moord, en sal Dinsdag in die hof verskyn.
"Ons glo die gedurige uitwysing van 'n verband tussen die sing van die lied deur kameraad Malema en die moord op mnr. TerreBlanche is nie net moedswillig nie, maar opruiend, en word gebruik om polarisasie op grond van ras aan te hits op 'n emosiebelaaide en sensitiewe tydstip," het Mthembu gesê.
Hy het gesê die "voortdurende leuen" is ook op Malema persoonlik gerig.
"Ons is van mening dat hierdie doelgerigte veldtog teen die president van die ANC-jeugliga deur sekere organisasies in ons samelewing, insluitend die VF+, kan lei tot gevolge wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie."
Volgens Mthembu is dit tyd vir alle Suid-Afrikaners om saam te staan, om te rou, en om Terre'Blanche te begrawe met die respek wat hy verdien sonder om ander sleg te sê of te blameer.
"Die ANC doen weereens 'n beroep op alle politieke partye en die Suid-Afrikaanse samelewing om die ondersoek aan die polisie oor te laat.
"Laat ons nie bydra tot 'n reeds sensitiewe atmosfeer ná die dood van mnr. TerreBlanche deur ongegronde en gevaarlike stellings te maak nie."
- SAPA