'Geen uitsonderlike omstandighede vir borg'
2013-02-21 18:00
Pretoria – Die borgtogaansoek van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, wat van moord aangekla is, sal Vrydag om 10:00 in die Pretoria-landdroshof hervat word.
Oscar blyk onder die indruk te wees dat hy nie tereg sal staan op die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, nie, het die aanklaer in die saak, Gerrie Nel, Donderdag aan die hof gesê.
Volgens Nel kom dit uit in Pistorius se gebruik van die woorde “sou daar ‘n verhoor wees” in sy beëdigde verklaring.
Nel het redes gestel hoekom landdros Desmond Nair nie borgtog aan die internasionale atleet moet toestaan nie.
Nel het gesê Pistorius het nie aangebied om sy paspoort op te gee nie, maar het gesê hy sal dit wel doen as dit ‘n voorwaarde vir borgtog is.
“Ons sê daar is niks uitsonderliks in hierdie man se aansoek nie. Hy is ‘n welaf man.”
“Hy het nooit aan hierdie hof gesê: ‘Ek gaan nêrens nie’,” het Nel bygevoeg.
Nel het gesê Pistorius is van plan om voort te gaan asof die moord nooit plaasgevind het nie.
“Ons is verstom deur die tekort aan erns.”
Pistorius se “algehele gebrek aan gewilligheid om verantwoordelikheid te neem vir sy dade maak hom ‘n groter vlugrisiko,” het hy gesê.
Nel het ook gesê dat dit nie ‘n toeval was dat die mense wat ná Steenkamp se moord verklarings afgelê het, gesê het hulle het gille en 'n rusie gehoor nie.
Hy het verder gesê dit is nie betwis dat Pistorius ‘n vuurwapen by Tashas-restaurant in Johannesburg afgevuur het en dat “iemand anders die blaam gedra het nie”.
“Dit is die regte persoon waarmee ons hier te doen het,” het Nel gesê.
In verwysing na ‘n dreigement wat Pistorius gemaak het dat hy “iemand se bene gaan breek” het hy gesê: “Wat anders is dreigemente en ‘n moord as ‘n geneigdheid tot geweld?”
Pistorius is aangekla van die moord op Steenkamp by sy huis in Pretoria.
Hy beweer hy het gedink daar was ‘n inbreker by die huis toe hy vier skote deur sy badkamerdeur gevuur het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA