'Geen tweespalt in Cope’
2010-05-03 08:29
Wolfram Zwecker
Johannesburg - Daar is geen tweespalt in Cope nie. Mense sal altyd een leier bo ’n ander verkies, maar dis net gesonde dinamiek en herlewing binne die party.
Dit was die amptelike reaksie van Cope se nasionale komitee, wat twee dae lank in Johannesburg oor onder meer die afgelope paar dae se woelinge binne die party vergader het.
Luidens ’n verklaring wat op ’n mediakonferensie uitgereik is, het Mosiuoa Lekota, leier van die party, om verskoning gevra vir sy onlangse uitsprake en bewerings.
Hy het onder meer ’n vraagteken oor die party se parlementêre geld geplaas en ’n vinger gewys na veral Mbhazima Shilowa, onderleier van die party.
Luidens die verklaring het die party se nasionale komitee Lekota se verskoning aanvaar en daarop gewys dat hy onskuldig is totdat die teendeel bewys is.
In antwoord op vrae het me. Charlotte Lobe, sekretaris-generaal van die party, gesê in dié stadium is bewerings oor die verdwyning van geld nog presies net dit – bewerings.
Lekota het ’n oordeelsfout begaan deur die bewerings oor die wanbestuur van parlementêre geld bekend te maak, lui die verklaring.
“Dit is ook waaroor die verskoning gegaan het, naamlik dat bewerings nie intern getoets en ondersoek is voordat dit openbaar gemaak is nie,” het sy gesê.
’n Nasionale oudit gaan nou van parlementêre sowel as partygeld gedoen word om te kyk wat die ware stand van sake is voordat verdere besluite geneem word, het sy gesê.
Die oudit sal betyds voltooi wees vir die party se nasionale kongres in November vanjaar.
Die nasionale komitee het ook besluit om die party se jeugliga te veroordeel vir sy onlangse optrede toe leiers in die party beledig is.
- Die Burger