Geen toekoms ná stuk glas in oog
2010-08-08 14:00
Rapport
Johannesburg - Drie jaar gelede het die toekoms blink gelyk vir die 28-jarige Lisha Govender. Sy was aantreklik, gesond en sy was halfpad deur haar studietyd om rekenmeester te word.
Nou voer Govender ’n kluisenaarsbestaan en is skaam om haar erg geskende gesig vir die wêreld te wys.
Sy is een van ses applikante in ’n hofsaak in die konstitusionele hof om die Padongelukkefondswysigingswet van 2005 ongrondwetlik te laat verklaar.
Die wysigingswetgewing het in 2008 in werking getree.
Die saak is deur die Prokureursorde aanhangig gemaak.
Govender was ’n passasier in ’n motor in ’n botsing reg van voor op 7 Desember 2008. Die ongeluk is glo deur ’n dronkbestuurder veroorsaak. Die ongeluk het gebeur nadat die wetswysigings in werking getree het.
Sy het ernstige beserings aan haar gesig opgedoen en glasskerwe het haar regteroog deurpriem.
Govender het nie ’n mediese fonds gehad nie en is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oorgeplaas waar die glas eers ’n dag ná die ongeluk uit haar oog verwyder is. Ná 15 onsuksesvolle operasies in staatshospitale is sy nog steeds blind in dié oog en dokters kan nie sê of sy ooit weer haar sig in die oog sal herwin nie. Haar toekomstige verlies aan inkomste beloop sowat R10 miljoen.
Tog kan sy nie vir ’n verlies aan inkomste eis nie, want die nuwe regulasie bepaal dat haar gestremdheid meer as 30% moet wees om vir enige skadevergoeding in aanmerking te kom.
Het die ongeluk voor 2008 plaasgevind, was die prentjie heeltemal anders.
Govender sou dan private gesondheidsorg ontvang het én sou vergoed word vir haar bestaande en toekomstige verlies aan inkomste, sê Aurrit Levin, haar prokureur.
Govender sou ook moontlik reeds plastiese chirurgie ontvang het en sou straks nou kon sien, sê Levin.
Die Padongelukkefonds (POF) sou haar ook voor 2008 vergoed het vir haar verlies aan inkomste en vir pyn en lyding, sê Levin.
“Ek is soms woedend oor die onreg van die situasie,” sê Govender. “Ek was nie verantwoordelik vir die ongeluk nie en ek mag nou nie eens die bestuurder vir skadevergoeding dagvaar nie, al was hy moontlik dronk. My gesig is permanent geskend en ek gaan moontlik ook my regteroog verloor.”
“My lewe het handomkeer verander. Niemand wil my in diens neem nie weens my mediese omstandighede. Ek het nie meer selfvertroue nie en ek kruip in my huis weg.”
Jeronico Mervyn Jansen (23), ’n kwadropleeg, is ook ’n applikant in die saak. Hy sê in ’n beëdigde verklaring dit is vir hom onmoontlik om homself te onderhou met net die toelaag wat hy maandeliks van die POF ontvang vir skadevergoeding.
Jansen is in 2008 in ’n motorongeluk verlam wat deur ’n roekelose motoris veroorsaak is. Hy het toe gestudeer om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.
Sy toekomstige verlies aan inkomste is bereken as R10 miljoen en sy toekomstige mediese kostes R3,5 miljoen.
Hy ontvang maandeliks skadevergoeding van nagenoeg R10?000 omdat eisbedrae nou statutêr vasgepen is.
Sy lewe is verwoes, sê Jansen. “Ek is veronderstel om intensiewe mediese behandeling en ander sorg vir die res van my lewe te ontvang. Ek het nie ’n mediese fonds nie en openbare gesondheidsdienste is nie in staat om na my te kyk nie.”
Jansen sê hy sal nooit weer kan werk nie en is nie daartoe in staat om vir homself of sy gesin te sorg nie.
Die Prokureursorde voer in hofstukke aan dat die wysigingswetsontwerp onregverdig en diskriminerend is omdat:
- die gemene reg verwyder is om die oortreder vir skadevergoeding te dagvaar;
- slagoffers nie geregtig is op volle skadevergoeding van die fonds nie, al word die fonds deur motoriste gefinansier wat ’n bydrae van sowat 64c tot die POF lewer vir elke liter petrol wat hulle koop.
Die saak word Donderdag in die konstitusionele hof in Johannesburg aangehoor.