Geen spanning in alliansie, sê Sexwale
2010-01-23 18:29
Durban - Tokyo Sexwale, minister van huisvesting en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Saterdag gerugte verwerp dat daar enige verdeeldheid tussen hom en Gwede Mantashe, die party se sekretaris-generaal is.
"Mense ken nie ons alliansie nie. Mense weet nie waar die alliansie vandaan kom nie. Daar is geen spanning tussen ons nie,” het hy gesê.
Sexwale het Saterdag ANC-ondersteuners tydens die party se 98ste herdenking in KwaZulu-Natal toegespreek.
Daar was onlangs berig dat Sexwale en Mantashe swaarde gekruis het oor Sexwale se verslag wat opgestel is ná ’n ondersoek oor die uitjouery van onder andere die ANC-jeugliga se president, Julius Malema, by die SAKP se kongres in Desember in Polokwane.
Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en ook voorsitter van die SAKP, het in ’n verklaring gesê dit is ongelukkig dat Sexwale besluit het om ’n geveg aan te knoop oor ’n onbenulligheid.
Dít nadat Sexwale ’n verklaring uitgereik het wat die aanname betwis dat die verslag oor die uitjouery geen status in die party het nie.
Sexwale het aan meer as 10 000 toeskouers gesê daar is geen spanning tussen hulle twee nie en dat dié wat die voorstel gemaak het, nie die alliansie verstaan nie.
In ‘n poging om sy bewerings te staaf, het hy en Themba Mthembu, die SAKP se provinsiale sekretaris hulle hoedens met mekaar uitgeruil.
“Ons behoort dié kwessies uit te werk. Ons moet ook nie in die oopte met mekaar veg nie. Mense sal dink daar is ‘n oorlog binne die alliansie, het Dr, Zweli Mkhize, die voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal gesê.
Die amptelike herdenking van die party het op 9 Januarie in Kimberley plaasgevind.
-Sapa