Geen skoon oudits in Oos-Kaap
2013-02-18 10:04
Johannesburg – Nie een munisipaliteit in die Oos-Kaap het 'n skoon oudit ontvang nie, is Maandag berig.
Die provinsiale ouditeur-generaal, Singa Ngqwala, het gesê munisipaliteite in die provinsie het swakker gevaar in hul 2011/'12-ouditverslae as dié van die vorige boekjaar, berig Dispatch Online.
Nege munisipaliteite het ongekwalifiseerde oudits, maar met bevindings, ontvang.
Altesaam 19 rade het 'n gekwalifiseerde oudit ontvang, 11 bly onveranderd en vyf het van afwysings en negatiewe menings verbeter.
Mlibo Qoboshiyane, LUR vir plaaslike regering, het gesê hy is ontsteld oor die verswakking en deur die feit dat nie een van die munisipaliteite 'n skoon oudit ontvang het nie.
Hy het gesê hy sal saam met al die burgemeesters werk om die situasie te verbeter.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA