Geen regshulp vir Jub Jub
2011-09-29 20:00
Johannesburg – ‘n Regshulp-prokureur sal nie aangewys word om die musikant Molemo “Jub Jub” Maarohanye te verteenwoordig in sy moordverhoor nie, het Regshulp SA Donderdag gesê.
Volgens Mpho Phasha, woordvoerder, het Maarohanye op 7 September Regshulp SA se sentrum in Dobsonville besoek, maar het nie die aansoekproses voltooi nie.
“Geen regshulp-aansoek is dus ontvang vir oorweging nie.”
Die verhoor is verlede maand in die Protea-landdroshof in Soweto uitgestel omdat Maarohanye finansiële probleme gehad het en nie sy regsverteenwoordiger, Ike Motloung, kon betaal nie.
Motloung het aan die hof gesê hy sal aan die saak onttrek indien Maarohanye hom nie kon betaal nie.
Maarohanye en sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala, word aangekla van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Hulle het na bewering teen mekaar resies gejaag toe een van hul Mini Coopers in ‘n groep skoolleerlinge ingeploeg het in Mdlalosestraat in Protea Noord.
Vier seuns is dood in die ongeluk. Twee ander het ernstige beserings, wat breinskade insluit, opgedoen.
Die verhoor word op 10 Oktober hervat.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA