Geen rede vir paniek oor Grand-Pa
2012-07-26 21:30
Johannesburg – Die medisynevervaardiger Glaxo Smith Kline het sommige versendings Grand-Pa-hoofpynpoeier van die rakke onttrek nadat die polisie beslag gelê het op 'n vervalste produk.
David Thomas, die maatskappy se algemene bestuurder van gesondheidsorg, het gesê die polisie het die maatskappy in kennis gestel van die vervalste produk wat by 'n fabriek in Oranjeville in die Vrystaat vervaardig is.
Thomas het gesê die maatskappy het "geïsoleerde pakkies" van die vervalste produk in die Vaal-gebied, Tembisa en Naboomspruit in Limpopo gesien.
"Dit is nie 'n wydverspreide probleem nie, maar een voorval is te veel en ons moet reageer."
Hy het gesê hoewel verbruikers op die uitkyk moet wees vir die produkte wat van die rakke onttrek is, is daar geen rede om paniekerig te raak nie.
Die maatskappy het vroeër in 'n verklaring gesê die vervalste produkte is nie onderworpe aan veiligheid- en kwaliteitsmaatreëls nie.
Die vervalste produk word verkoop in verpakking met klein verskille van die oorspronklike produk.
Die vervalste produk het spelfoute in die teks op die verpakking. Die woord "koors" is verkeerd gespel as "kors" op die vervalste produk.
Die maatskappy het gesê die poeier van die vervalste produk is na sy laboratoriums in die Verenigde Koninkryk gestuur om die inhoud daarvan vas te stel.
GSK het gesê hy het vrywilliglik sy eie produk van die rakke onttrek in 'n poging om verbruikers te beskerm.
Thomas het benadruk dat slegs die produkte met die versendingnommers 309339 en 314020 onttrek word.
Dié versendingnommers word deur die vermeende misdadigers gebruik.
"Die produk as 'n geheel word nie van die rakke onttrek nie, slegs dié met die twee versendingnommers," het Thomas gesê.
Die maatskappy het verbruikers, wat vermoed hulle het die vervalste produk gekoop of navrae het, gevra om sy hulplyn 0800 118274 te bel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA