Geen nuus oor ontvoerde man
2011-12-05 13:05
Johannesburg – Daar is geen nuus oor 'n Suid-Afrikaner wat 11 dae gelede in Mali ontvoer is nie, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking Maandag gesê.
"Daar is geen verwikkelinge nie," het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, gesê.
'n Familielid wat anoniem wou bly, het gesê hulle het nog niks gehoor nie.
"Dit is alles stil en ons wag net."
Die Suid-Afrikaanse ambassade werk saam met owerhede in Mali, wat 'n soektog na die ontvoerdes van stapel gestuur het.
Monyela het vroeër gesê die departement is gesê dat dit veiliger sal wees om nie die naam van die 36-jarige Suid-Afrikaanse man, wat Vrydag saam met Sweedse en Nederlandse toeriste ontvoer is, bekend te maak nie.
Ali Maiga, die mans se toergids, het aan AP gesê gewapende mans het by 'n restaurant in Timboektoe ingestorm, vier toeriste gegryp en 'n Duitser, wat geweier het om in hul vragmotor te klim, doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA