Geen maklike matriek
2009-09-14 06:22
Lizel Steenkamp
Kaapstad - ’ n Ingrypende beleidsvoorstel dat gr. 12’s die nasionale senior sertifikaat met onderskeiding verwerf met ’n gemiddelde van 70% en nie 80% nie, gaan summier teruggetrek word.
Hierdie en ander voorstelle vir veranderings aan die nasionale senior sertifikaat is op 26 Augustus in die Staatskoerant afgekondig sonder dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, daarvan geweet het.
Motshekga het haar kantoor gisteroggend opdrag gegee om dadelik met die regsproses te begin.
’n Kennisgewing om die afkondiging terug te trek, sal binne twee weke in die Staatskoerant gepubliseer word, het Panyaza Lesufi, Motshekga se woordvoerder, gesê.
“Die minister het nie hiervan geweet nie. Sy was onder die indruk dit is nog deel van ’n interne proses. Dis ’n reusagtige misverstand. Skole en beamptes bel onophoudelik. Almal is verward en histeries.”
Die bom het gister gebars toe die Sunday Times op sy voorblad oor die voorgestelde wysigings berig het. Van die omstrede voorstelle is dat gr. 12’s die sertifikaat met onderskeiding verwerf deur 80% in drie vakke te behaal en minstens 60% in drie ander vakke.
Voorts word voorgestel dat die sertifikaat met meriete verwerf word deur 60% in drie vakke te behaal en ’n minimum van 50% in drie ander vakke. Tans is ’n algehele gemiddelde van 60% nodig om met meriete te slaag.
Lesufi het verwoed vure doodgeslaan en gesê bogenoemde voorstelle is “vir eers” van die baan. “Die status quo geld vir vanjaar.”
Daar word op goeie gesag verneem departementele amptenare het Motshekga “doelbewus óf per ongeluk in die duister gehou”.
“Sy is nie vooraf ingelig of geraadpleeg nie. Dis baie swak hanteer,” het ’n topbeampte van die departement gesê.
Volgens hom is dit ongehoord dat sensitiewe beleidsveranderings sonder die minister se medewete op dié manier in die openbare domein beland.
“Ons kan nie die matriekstandaarde agter geslote deure verander nie. Die voorstelle is nog lank nie beleid nie, dit moet nog deur die rolspelers bespreek word.”
Dr. Theuns Eloff, voorsitter van Hoër Onderwys Suid-Afrika, het by navraag gesê ook húlle het geen kennis gedra van die voorstelle nie. “Ek sal die terugtrekking verwelkom. Hesa is nie ingelig oor die rede vir die veranderings nie.”
Volgens hom is die voorstelle “ ’n terugwaartse stap na middelmatigheid”.
“Die wêreldwyd erkende metode wil 80% vir ’n gemiddelde hê. Niemand gaan hiermee saamstem nie. Die onderliggende filosofie is dit is maklik om matriek te slaag, maar in die wêreld daar buite word steeds geen kompromieë aanvaar nie,” het Eloff gesê.
Prof. Nan Yeld, ’n onderwyskundige aan die Universiteit van Kaapstad, was gister krities oor die wyse waarop die departement met die publiek kommunikeer.
“Die publiek is regtig bekommerd oor ons onderwysstelsel, en daar is ’n gebrek aan vertroue in die departement.
“Hulle moet dus baie versigtig wees oor hoe hulle beleidsveranderinge motiveer.”
Sy is nie teen die voorstelle gekant nie. “Maar die doel moenie wees om uitslae kunsmatig op te blaas nie. As die hoeveelheid onderskeidings dramaties styg, is daar fout.”
Yeld het verlede maand die uitslag van die National Benchmark Tests aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys voorgehou. Dit plaas die standaard van die twee wiskundevraestelle wat matrieks tydens verlede jaar se nasionale senior sertifikaat-eksamen afgelê het, onder verdenking.
- Die Burger