'Geen drank by ANC se Kerspartytjies, asseblief'
2011-12-04 08:02
Johannesburg – Asseblief, geen drank meer by die regering se Kerspartytjies nie.
Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, vra alle staatsdepartemente om alkoholvrye jaareindgeleenthede te hou.
Sy het ’n beroep op haar kollegas gedoen om ’n voorbeeld te stel. Sy wil ook ’n verbod hê op die bediening van alkohol by alle regeringsgeleenthede.
“Ons vra verder alle regeringsamptenare om nie te drink en bestuur nie,” het Dlamini Vrydag gesê.
Haar departement lei die regering se program teen alkohol- en middelmisbruik in die feestyd wat op 14 Desember in die Wes-Kaap bekend gestel word.
Met die tema “Na ’n alkohol-en-dwelmmiddelvrye Suid-Afrika” vra sy staatdepartemente, van die plaaslike polisiekantoor op Springbok tot die president se kantoor, om ’n “droë” feestyd te hê.
Dit is deel van die interministeriële program van aksie teen middelmisbruik.
Die plan sluit in ’n omstrede verbod op alkoholadvertensies wat volgens Dlamini in die eerste kwartaal van aanstaande jaar aandag sal kry.
“Ons wil verantwoordelikheid tuisbring en die regering versoek alle Suid-Afrikaners om standpunt in te neem teen die misbruik van alkohol en middels en om beter gemeenskappe te bou,” sê sy.
Dlamini stel reeds ’n voorbeeld, aangesien alkohol al sedert verlede jaar by haar departement se geleenthede verbied is.
“Die feestyd behoort ’n gelukkige tyd te wees. Maar elke jaar gaan jong mense dood of word deur iemand anders doodgemaak wanneer hulle drink en bestuur.
“Middelmisbruik dra by tot baie van ons sosiale probleme. Dit speel ’n rol in die oordrag van MIV/vigs deur riskante seksuele gedrag wat verbind word met mense onder die invloed van drank.
“Dit speel ’n rol in misdaad en geweld teen vroue en kinders. Ons het van die wêreld se hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom,” sê sy.
Terwyl Suid-Afrikaners asem ophou vir wat die sterftesyfer hierdie feestyd op die land se paaie gaan wees, is die uiteindelike doelwit om ’n algehele verbod te plaas op drink en bestuur sodat bestuurders geen alkohol in hul bloed sal mag hê nie.
“Suid-Afrikaners moet met die regering saamwerk om die plaag van middelmisbruik te beveg omdat dit lewens, gesinne en gemeenskappe vernietig,” sê Dlamini.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport