Geen chemo weens staking
2010-09-06 06:31
Dries Liebenberg
Durban. – ’n Kankerlyer wat die laaste weke “deur hel is” weens die staatsdiensstaking, lewe in vrees oor wat van haar kind gaan word as die ergste gebeur.
“Ek kan nie ’n oog toemaak nie, want ek dink knaend wat van my 12-jarige seun gaan word as ek moet sterf.”
Só vertel Charlie Butterworth (42), ’n werklose enkelouer van Margate aan KwaZulu-Natal se suidkus.
Sy is nou halfpad deur ’n kursus van ses sessies chemoterapie nadat sy in April ’n mastektomie weens borskanker ondergaan het.
Vanweë die staking het sy meer as vyf weke laas chemoterapie ondergaan en vrees dat die kankerselle nou sal vermeerder.
’n Spesialis-onkoloog wat op voorwaarde van anonimiteit met Beeld gepraat het, het gesê die onderbreking in chemoterapie by staatshospitale kán “katastrofale gevolge” op lang termyn vir pasiënte inhou.
Al drie staatshospitale in KwaZulu-Natal – Addington- en die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban, sowel as die Grey-hospitaal in Pietermaritzburg – waar chemoterapie gelewer word, word deur die staking geraak.
Die onkoloog het gewaarsku dat hulle ’n toestroming van kankerpasiënte ná die beëindiging van die staking verwag en dat dit tot ses maande kan duur om die agterstande uit te wis.
“Op die oomblik is daar bykans slegs dokters aan diens, terwyl chemoterapie sterk steun op die bystand van verpleegsters,” het die onkoloog gesê.
“As dokters is ons gefrustreerd. Ons wil pasiënte ’n kans gee om kanker te oorwin, maar die verpleegsters is van kritieke belang en sonder hulle is ons hande gebind,” het hy gesê.
Kankerbehandeling ná die operasie om die gewas te verwyder – wat bestaan uit chemoterapie en daarna bestraling – is volgens hom net so belangrik as die operasie self.
Volgens die spesialis word die bestraling van pasiënte nie deur die staking geraak nie.
Butterworth het vertel sy het op 28 Julie laas chemoterapie ontvang.
Drie weke later was haar witbloedsel-telling te laag en moes sy ’n week wag. Die staking breek toe egter uit.
Die eerste week het ’n ontvangsdame hulle oor die foon meegedeel geen dienste word by die hospitaal gelewer nie.
’n Afspraak vir verlede week is twee keer telefonies bevestig, maar dokters het net drie pasiënte behandel en toe vir haar en nog ses ander mense weggewys.
“Hy was baie gaaf. Hy het verduidelik ’n pasiënt sal in die hospitaal opgeneem moet word as iets met die behandeling verkeerd loop en dat daar nie beskikbare beddens is nie,” het Butterworth gesê.
Sy het haar werk weens rasionalisering verloor voordat borskanker in Januarie by haar gediagnoseer is.
Sedertdien het sy geen inkomste nie en is van haar ma, me. Pam Adams, afhanklik.
Hospitaalpersoneel het haar aangeraai om weens die kanker vir ’n ongeskiktheidstoelae te registreer, maar weens die staking kan sy nie eens dít doen nie.
“Jy sien die polisie en soldate met hul gewere buite die hospitaal en jy bekommer jou of jy veilig gaan wees as jy drie of vier uur daar moet sit terwyl die chemoterapie toegedien word,” sê sy.
“Wat het geword van ubuntu? Waarom kan die staat nie chemoterapie by private hospitale laat doen nie?” wou ’n ontstelde Adams weet.
Volgens me. F.G. Zondi, uitvoerende hoofbeampte van die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal, is kankerpasiënte slegs op die eerste dag van die staking weggewys en word alle chemoterapie-pasiënte wat opdaag sedertdien behandel.
Nierdialise is van 24 Augustus na private hospitale uitgekontrakteer.
- Beeld