Geen borgtog vir Oscar – minister
2013-02-19 12:28
Pretoria – Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en gestremdes, het Dinsdagoggend buite die Pretoriase landdroshof gesê Oscar Pistorius moet borgtog geweier word.
Xingwana het saam met 'n groep vroue buite die hof, waar Pistorius verskyn, betoog. Pistorius word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, vermoor het. Hy doen aansoek om borgtog.
"Ons as die ANC-vroueliga-gemeenskap en nieregeringsorganisasies (NRO’s) is hier om te sê 'geen borgtog'," het die minister gesê.
"Dit maak nie saak wat Pistorius se status in die samelewing is nie."
Pistorius is Donderdag in hegtenis geneem kort nadat Steenkamp in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet is.
"Ons wil hê hy moet soos die ander misdadigers, wat van moord of vrouemishandeling aangekla is, behandel word," het Xingwana gesê.
Sy het gesê diegene wat aan dié soort misdade skuldig bevind word, moet die "swaarste moontlike vonnisse" opgelê word.
Xingwana het 'n beroep gedoen op die regering vir strenger vuurwapenregulasies en om vuurwapens in huise te verbied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA