Geen bewyse teen Ngcobo
2009-08-13 17:49
Johannesburg – Daar is geen prima facie-bewyse dat die Johannesburgse metropolisiehoof, Chris Ngcobo, skuldig is aan wangedrag nie, het Amos Masondo, burgemeester van Johannesburg, gesê.
“Die stad is bekommerd dat geen van aantygings wat deur die unie gemaak is bewys kan word nie,” het Masondo Donderdag tydens ‘n perskonferensie gesê.
Die stad het ‘n ondersoek geloods nadat die South African Municipal Workers' Union (Samwu) aantygings van korrupsie teen die metropolisiehoof gemaak het.
Ngcobo het tydelik uit sy posisie getree nadat lede van die unie ‘n weeklange staking begin het.
“Ek voel gelukkig en opgewonde,” het Ngcobo tydens die perskonferensie gesê. Volgens hom koester hy geen wrok teen die wat hom beskuldig het nie.
“My doel was om terug te staan terwyl die saak ondersoek word. Ek is nie kwaad nie,” het hy gesê.
Dumisani Langa, Samwu-woordvoerder, het gesê dat hulle nie die bevindinge sal aanvaar nie.
“Daar is heelwat ongerymdhede in dié ondersoek. Ons wil dadelik ‘n vergadering reël sodat hulle die prosedures van die ondersoek aan ons kan verduidelik,” het Langa gesê.
–Sapa