Geen alternatiewe dienste op Gautrein-busroetes
2012-02-03 10:03
Johannesburg – Daar was Vrydag geen alternatiewe busdiens beskikbaar gestel vir die Gautrein-busdienste wat as gevolg van 'n staking deur busbestuurders opgeskort is nie, het die Bombela-konsessie gesê.
“In die kort tydperk van die onwettige stakings is die bestuurders van die alternatiewe busdienste geïntimideer en wil hulle nie voortgaan om te werk nie,” het woordvoerder Errol Braithwaite gesê.
“Die dissiplinêre prosedures wat gister (Donderdag) begin het, is tans onderweg en ons hoop dat dit teen die einde van vandag afgehandel sal wees sodat ons die pad vorentoe kan bespreek.”
Braithwaite het gesê hulle het die stakende werkers uit die depot in Midrand gesluit.
“Ons gaan hulle nie inlaat totdat die kwessie opgelos is nie. Dit is moeilik om betekenisvolle gesprekke te hê met die busbestuurders wat nie meer deur ‘n vakbond verteenwoordig word nie,” het hy gesê.
Die busbestuurders van die Gautrein-busdiens, wat voorheen lede van die SA Transport and Allied Workers' Union (Satawu) was, het die vakbond verlaat en tree nou onafhanklik op. Satawu het dit Woensdag bevestig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA