Geen R500-noot op die horison – Marcus
2012-02-11 17:34
Kaapstad – Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank, het Saterdag in Pretoria gesê geen R500-noot sal in die nabye toekoms uitgereik word nie.
"'n R500-noot is beslis nie op die horison nie," het Marcus by 'n funksie in Pretoria gesê waar pres. Zuma aangekondig het dat oudpres. Nelson Mandela se gesig op 'n nuwe reeks banknote sal verskyn.
"Mense wat banknote vervals teiken gewoonlik die note met die hoogste waarde en dit sal onnodige probleme veroorsaak," het sy gesê.
Marcus het beklemtoon dat die Reserwebank eerder daarop sal konsentreer om die beskikbaarheid van die bestaande note te verbeter.
Sy het gesê die nuwe reeks banknote sal stelselmatig ingefaseer word, en dat die huidige reeks note steeds ná die bekendstelling wettig gebruik kan word.
Die gebrek aan besonderhede oor die aankondiging wat pres. Zuma Saterdagmiddag sou maak, het die rand vroeër met sowat 2,5% teen die dollar laat tuimel.
Handelaars was bekommerd dat die Sentrale Bank van Afrika se grootste ekonomie 'n drastiese beleidverandering of aanstelling sal maak terwyl die markte gesluit is.
Ná aankondigings van bankbeamptes, wat gesê het dat die nuus nie oor rentekoerse of bedankings sal wees nie, het die rand vinnig herstel.
Dié aankondiging sou aanvanklik om 13:00 gemaak word, maar is toe tot 15:00 verskuif.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24