Gee grond weg, sê Malema aan boere
2011-04-30 07:00
Kaapstad - As boere die meeste van hul grond aan die armes afstaan, het hulle geen rede om misdadigers of plaasaanvalle te vrees nie, het Julius Malema, ANC-jeugleier, Vrydagaand gesê.
“Wittes het geen rede om ons te vrees nie. As jy 1 000 ha het, en jy gee ons 800 ha, dan deel ons almal daarin. Dan is daar geen rede om te vrees dat misdadigers jou sal aanval nie, want dan is ons almal gelyk.
“Dan sal jy nie bang wees om op ’n 1 000 ha-plaas te woon nie,” het Malema onder luide toejuiging van sowat 250 jong professionele ANC-lede gesê.
Malema was die hoofspreker op ’n geleentheid wat deur die ANC se professionele forum by die Crystal Towers-hotel in Kaapstad gereël is.
Volgens Malema moet grondeienaars dié opoffering vrywillig maak.
“Ons wil nie mense dwing nie. Hulle moet nóú vir ons wys dat hulle omgee.”
Malema het voorts uitgevaar teen “ryk, wit mans” soos die Oppenheimer- en Rupert-families. Volgens hom lyk die Noord-Kaap soos ’n woestyn terwyl die Oppenheimers dekades lank deur hul mynbedrywighede verryk is.
“Hulle speel gholf in Engeland en is waarskynlik vandag by die koninklike troue.”
Hy het gespot met ryk Suid-Afrikaners wat die land verlaat of op Stellenbosch gaan nesskop, “soos die Ruperts”.
Volgens hom word daar gereeld na welgestelde, swart sakelui soos Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa en Patrice Motsepe verwys. “Maar hulle is nie ryk nie. Hulle skuld die banke geld en aan wie behoort die banke? Aan wit mans.
“Niks wat ek besit, is my eie nie – nie die huis in Sandton waar ek woon, of die kar waaroor almal so praat nie. Dis die Ruperts se kar. Daar is niks wat aan ons behoort nie. Alles word deur die wit man besit. Ons moet dit verander.”
Strategiese ekonomiese sektore soos die banke en myne moet volgens Malema genasionaliseer word en die herverdeling van grond moet verhaas word om die arm massas ekonomies te bevry en die tweede fase van die vryheidstryd te verwesenlik.
Hy het opnuut voorbrand gemaak vir ’n staatsbank wat bekostigbare huislenings en motorfinansiering moet verskaf. Malema het ook die media uitgesonder en gesê: “Die mense teen wie ons veg, beheer ook die media.”
Malema het voorts daarop gesinspeel dat die heersende ANC-leiers op hul hoede moet wees in aanloop tot die ANC se volgende leiersverkiesing in Mangaung in 2012.
Volgens hom sal die individue wat ANC-beleid ondermyn by dié verkiesing “verwyder” word.
“Sekere mense in die ANC dink hulle is magtig, maar ons het ’n oplossing vir sulke individue. Wag maar tot 2012.”
Die ANC-jeugliga is ook moeg daarvoor dat swart mense net goed genoeg is om die slaggate in die paaie reg te maak. “Professionele swart mense moet 130% insit, omdat hulle jou vermoëns betwyfel weens die kleur van jou vel.”
- Volksblad