Gebrek aan bewyse oor Marikana, sê advokaat
2013-01-21 12:42
Johannesburg – Daar is 'n ontstellende gebrek aan bewyse oor die skietery by Lonmin se Marikana-myn, het die Farlam-kommissie van ondersoek Maandag in Rustenburg gehoor.
Adv. Dumisa Ntsebeza, wat die families van die 34 ontslape mynwerkers verteenwoordig, het gesê hy kon nie beeldmateriaal van die skietery by die polisie kry nie.
Hy het aan brig. Zephania Mkhwanazi, ’n kenner van openbare orde-polisiëring, gesê die beeldmateriaal word of weggesteek of is verwoes.
"Dit kan dalk wees dat die bewyse bestaan het, maar dis verwoes of uitgevee. Ek sê nie deur jou nie."
Mkhwanazi het gesê hy verstaan die ondervraging en sal eerlik wees oor die inligting.
"Wat ek weet sal ek definitief bekendmaak."
Die ondersoek na die dood van 44 mense tydens 'n onbeskermde staking by Lonmin se Marikana-myn in Augustus verlede jaar, is Maandag by die Rustenburg-burgersentrum hervat.
Altesaam 34 stakende mynwerkers is op 16 Augustus doodgeskiet en 78 gewond toe die polisie op hulle losgebrand het terwyl hulle probeer het om 'n groep werkers, wat op 'n koppie vergader het, uiteen te jaag.
In die voorafgaande week is 10 mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte, doodgekap naby die myn.
Pres. Jacob Zuma het die kommissie in Augustus aangestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA