Gebou brand 2de keer in twee weke
2011-09-12 09:03
Welkom – Nog skade van miljoene rande is aangerig toe ’n onderneming wat papier en plastiek herwin vir die tweede keer binne twee weke aan die brand geraak het.
Die eienaar vermoed brandstigting het gelei tot die brand wat Sondag kort voor 16:00 by die onderneming in die nywerheidsgebied uitgebreek het.
Die polisie ondersoek ook ’n klag van brandstigting.
’n Sterk wind het Sondagmiddag brandweerpersoneel se taak bemoeilik en twee aangrensende geboue het ook brandskade opgedoen.
Presies twee weke gelede het brandweerpersoneel ook ure lank gesukkel om ’n reuse-brand by dié onderneming in Keeromstraat in die stad se nywerheidsgebied in bedwang te bring.
’n Verslae Anita Fouché, eienaar van Jan Roux Waste Recycles, het in trane gesê sy het nou alles verloor. “My laaste voorraad het nou verbrand. Ons het nog nie eens die vorige brand uitgesorteer nie en nou het dit weer gebeur.”
Sy weet nie wat Sondag se skade is nie, maar die vorige brand het meer as R4 miljoen se skade aangerig.
Sy en haar twee kinders besit dié familie-onderneming.
Sy vermoed brandstigting.
Die onderneming is op twee erwe en die brand verlede week het in ’n gebou ontstaan waar vyf bakkies en drie vragmotors was.
Ook al die toerusting wat in die herwinningsproses gebruik is, is toe vernietig.
Fouché sê die onderneming word nou tydelik vanuit ’n bergplek in die Adami’s-gebou in die stad bedryf.
Ryk Kruger, wat in dieselfde straat bly, het weer die brand eerste gesien.
“Ek het probeer om van die voertuie te red, maar kon nie die sleutels in die hande kry nie.”
Hy sê die brand het kort voor 16:00 uitgebreek.
Brandweerbeamptes van oral in die Goudveld is na die brand uitgeroep. Hulle het ure gespook om die vlamme in bedwang te kry.
’n Klag van brandstigting word deur die polisie ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad