Geboortesertifikate meer betroubaar
2011-06-17 12:34
Philda Essop
Kaapstad-Die besonderhede van ma’s van pasgebore babas wat by die departement van binnelandse sake geregistreer word, sal voortaan op die babas se geboortesertifikate verskyn.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, het gesê om dié bykomende inligting aan te bring sal help om die misbruik van geboortesertifikate te voorkom.
Dié inligting sluit die ma se naam en haar ID-nommer in.
Sy het verduidelik dat die geboortesertifikaat in sy huidige vorm nie babas met enigiemand op die bevolkingsregister verbind nie.
Die departement het bevind dat dié dokumente vervals word, soms ook deur amptenare, omdat dit nie aan enigiemand verbind hoef te word nie. Met sulke vervalsings kan mense onder meer toegang tot kindertoelaes kry.
Dit is tans ook maklik vir iemand wat nie op ’n geboortesertifikaat geregtig is nie, om die dokument te vervaardig.
“In ’n poging om dit hok te slaan, het ons besluit om die sekerheid van die geboortesertifikaat te verbeter. Ons het nou besluit dat die kind van geboorte aan iemand op die bevolkingsregister verbind moet word. Die vanselfsprekende persoon – die enigste persoon wat beslis daar sal wees – is die ma.
“Geen kind word immers sonder ’n ma gebore nie.”
Die Burger