Gautrein-busdienste steeds opgeskort
2012-02-02 11:55
Johannesburg – Die Gautrein-busdienste was Donderdagoggend steeds opgeskort as gevolg van ‘n onwettige staking deur busbestuurders, het die Bombela-konsessie gesê.
“Die bestuurders het ons met geen opsie gelos as om vanoggend (Donderdagoggend) met dringende dissiplinêre stappe te begin nie,” het woordvoerder Errol Braithwaite gesê.
“Ons kan nie langer die gedrag van bestuurders verdra wat die maatskappy en ons kliënte ophou deur buite die wet op te tree nie. Dit is onaanvaarbaar vir hulle om te dink hulle kan op hierdie wyse optree.”
Die bestuurders het Woensdagmiddag ‘n ultimatum geïgnoreer wat vereis het dat hulle om 15:00 terug moet keer werk toe. ‘n Hofinterdik is verlede maand uitgereik wat bestuurders gedwing het om terug te keer werk toe.
Volgens Braithwaite het die bestuurders hul eie hofaansoek ingedien om dissiplinêre verhore te verhoed, maar hul aansoek is deur die arbeidshof in Johannesburg afgekeur. Sommige van die bestuurders is afgedank.
Hy het bygevoeg dat die bestuurders nie meer deur ‘n vakbond verteenwoordig word nie.
“Dit maak onderhandelinge moeilik. Satawu het probeer om ‘n middelman te wees.”
Die Gautrein-busbestuurders, wat lede van die SA Transport and Allied Workers’ Union (Satawu) was, het die vakbond verlaat en tree nou onafhanklik op. Satawu het dit Woensdag bevestig.
Braithwaite sê die maatskappy sal doen wat hy kan om te verseker dat daar so vinnig moontlik ‘n busdiens op sleutelroetes loop.
Die busbestuurders het verlede maand begin staak, aangesien hulle versoek het dat MegaExpress hulle elke dag met vervoer van hul huise na hul werkplek moet voorsien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA