Gautengse gesondheidsdept. betaal skuld
2012-05-01 23:11
Johannesburg – Die Gautengse departement van gesondheid het al sy skuld by mediese verskaffers tot en met die einde van Maart ten volle betaal, het 'n amptenaar Dinsdag gesê.
"(Die departement) beweeg nou vinnig om 'n omkeerstrategie in werking te stel by die mediese verskaffingsdepot," het Phumelele Khumalo, 'n woordvoerder, gesê.
'n Totaal van R874 miljoen is verlede week aan die mediese verskaffers betaal, wat beteken al die skuld van 2011 is gedelg, het hy in 'n verklaring gesê.
Ntombi Mekgwe, provinsiale LUR, het opdrag gegee dat alles moontlik gedoen moet word om voorraad te hou vir drie maande, pleks van die huidige ses weke.
Khumalo het gesê 'n vergadering met mediese verskaffers word beplan om werksverhoudings en die verbetering van verskaffingsdienste te bespreek.
Intussen word gepoog om beter beheer oor die verspreiding van medikasie van die verskaffingsdepot tot by hospitale en klinieke uit te oefen.
"'n Hersiening van die huidige sakemodel van die mediese verskaffingsdepot het begin as deel van die departement se omkeerstrategie," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA