Gauteng-man verdrink glo in Vaal
2010-09-27 12:00
Johannesburg - Die soektog na ‘n 18-jarige man wat vermoedelik ná ‘n kanoe-ongeluk op die Vaaldam verdrink het, duur voort, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
Setjhaea Nedzema (18) het Sondagoggend vermis geraak nadat hy op die dam visgevang het, het Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, gesê.
Die NSRI se stasiehoof by die Vaaldam, Dick Manten, het gesê ‘n “intense soektog is Sondag deur NSRI-reddingsbeamptes en polisieduikers van stapel gestuur. Hulle het tot in die nag, toe dit baie moeilik was om onder die water te sien, geduik, maar geen teken van die vermiste tiener is gevind nie.”
“Maandag sal polisieduikers aanhou soek, en polisiehonde word ingespan om die vermiste tiener in die water te probeer opspoor.”
Sterk winde het die soektog Sondag bemoeilik, maar die wind het teen Maandag gaan lê, het hy gesê.
Die man het saam met vriende op die damwal gekampeer en in ‘n klein kanoe gaan visvang toe hy óf uit die boot geval óf saam met die boot omgeslaan het. Hy het nie ‘n reddingsbaadjie gedra nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA