Gauteng: Talle skoolbusse onpadwaardig
2012-07-05 14:44
Johannesburg – Minstens 203 uit 485 busse in die Gauteng-skoolvervoerprogram is onpadwaardig, het Barbara Creecy, LUR vir onderwys in Gauteng, Donderdag gesê.
Creecy, wat die Randburg-toetsstasie in Johannesburg besoek het, het gesê meer as 700 busse is vir die skoolvervoerprogram gesubsideer word. Altesaam 485 is al getoets.
Die meeste van die busse wat getoets is, is onpadwaardig weens foutiewe remme, probleme met die stuurmeganismes asook los drade en boute.
Busoperateurs sal twee weke kry vir herstelwerk, waarna hulle toegelaat sal word om nog 'n toets te doen.
"As jy in ag neem dat ons daagliks 50 000 leerders met 700 busse vervoer... dink ons ons relatiewe veilige rekord is te danke aan hierdie proses," het Creecy gesê.
Sy sê die busse was sedert die begin van die jaar nog nie in enige ongelukke betrokke nie.
Creecy het inspekteurs vergesel terwyl busse by die stasie getoets is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA