Gandhi se as in Durban gestrooi
2010-01-30 16:50
Durban – Van Mohandas K. Gandhi se as is vandag, ses dekades na sy dood, langs die Durbanse kus in die Indiese Oseaan, wat Suid-Afrika met Indië verbind, gestrooi.
‘n Diens is vroegoggend in Durban se hawe gehou om die 62ste herdenking van Gandhi se dood te herdenk.
Gandhi het vir 21 jaar in Suid-Afrika gewoon en baie van sy filosofieë is ontwikkel terwyl hy hier gewoon het.
Gandhi, ook bekend as die Mahatma of “groot siel”, is in 1948 in Nieu-Delhi doodgeskiet.
Sy as is verdeel, in staal houers gestoor en oor Indië en na ander lande gestuur vir gedenkdienste.
Van die oorblyfsels is in 2008 in die see naby Mumbai gestrooi, terwyl ander in 1997 in ‘n heilige deel waar die Ganges en Yamuna riviere in Indië bymekaarkom gestrooi is.
Kort na sy aankoms in Suid-Afrika in 1893, is Gandhi, wat toe ‘n jong prokureur was, van ‘n trein afgegooi omdat hy geweier het om die “slegs blankes” kompartement te verlaat.
Gevolglik het hy aktief betrokke geraak in die geveg vir menseregte in Suid-Afrika.
Hy het in huise en op plase regoor Suid-Afrika gewoon, voordat hy op die ouderdom van 46 teruggekeer het na Indië om te veg vir onafhanklikheid van Brittanje.
- Sapa