Gaan Malema sy verhoor bywoon?
2010-05-02 17:55
Johannesburg - Die ANC-jeugliga weet nie of sy president, Julius Malema 'n kennisgewing ontvang het om Maandag 'n dissiplinêre verhoor by te woon nie, het 'n woordvoerder Sondag gesê.
"Indien hy wel 'n kennisgewing ontvang het, is ek nie daarvan bewus nie," het Magalene Moonsamy, woordvoerder van die jeugliga gesê.
Dít volg ná 'n berig in City Press dat Malema nie sy dissiplinêre verhoor Maandag sal bywoon nie.
Volgens die koerant is Malema nie bewus van die verhoor of van die aanklagtes teen hom nie.
Derek Hannekom, voorsitter van die ANC se dissiplinêre komitee het gesê Malema sal Maandag na verwagting sy verhoor by die Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg bywoon.
"Ek is nie seker wat Malema hieroor gesê het nie. Al wat ek weet is dat hy wel 'n kennisgewing ontvang het, en dat ons hom Maandag verwag," het hy aan die koerant gesê.
- Sapa