Gaan De Kock loop?
2010-01-24 10:38
Herman Scholtz, Jan-Jan Joubert en Henry Cloete
Johannesburg - Die sogenaamde “Wit Wolf”- moordenaar, Pieter Groenewald, weet hy moes gestraf word, maar hy weet ook God het hom nou vergewe.
Hoewel hy hom nog altyd ’n Christen geag het, het hy in die tronk opnuut tot bekering gekom.
Groenewald is Vrydagmiddag op parool vrygelaat nadat die Pretoriase hooggeregshof Woensdag ingegryp het.
Hy is in 2003 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis weens twee moorde en poging tot moord.
Sy
pa, oudgenl. Tienie Groenewald, sê egter sy seun is geen Wit Wolf nie
en is ontsteld daaroor dat dié etiket om sy seun gehang word.
Hy
het gister aan Rapport gesê die enigste verwysing na “Wit Wolwe” was
tydens die verhoor, toe die bestuurder van die motor, mnr. Brian
Chester-Browne, getuig het hy het die swart slagoffers gevra of hulle
weet wie die Wit Wolwe is voordat hulle geskiet is.
Waarnemende
regter Roelof du Plessis het gelas dat Groenewald jr. onmiddellik
vrygelaat word nadat die departement van korrektiewe dienste (DKD) se
appèlaansoek verwerp is.
Groenewald jr. het verlede jaar
reeds aansoek gedoen om die paroolraad se besluit om hom nog nie vry te
laat nie tersyde te stel.
Geen DKD-regsverteenwoordigers
het toe by die hof opgedaag nie en Du Plessis het uitgevaar oor hul
“betreurenswaardige en onaanvaarbare” gedrag.
Du Plessis het beslis dat die DKD waarskynlik doelbewus Groenewald jr. se paroolaansoek vertraag het.
Volgens
mnr. Julian Knight, Groenewald jr. se prokureur, het sy kliënt in
aanmerking gekom vir parool nadat ’n derde van sy vonnis uitgedien is.
- Iemand wat dalk nie so vinnig uit die tronk gaan kom nie, is die apartheidsmisdadiger Eugene de Kock.
In sy geval is kwytskelding ter sprake, nie parool nie.
Hoewel
die plan vir De Kock en andere se kwytskelding, waaroor Rapport twee
weke gelede berig het, steeds op koers is, toon navrae dis uiters
onwaarskynlik dat dit binne twee weke sal gebeur, soos die afgelope
week beweer is.
De Kock se geestelike berader, past.
Philip Kruger, het gister ontken dat De Kock al sy sel opruim vir
vrylating of dat daar al ’n datum vir sy vrylating bepaal is.
“Ek het Vrydag en vandag (gister) met hom gepraat. Hy is positief dat hy een of ander tyd vrygelaat sal word.”
De
Kock beskou dit as ’n “teleurstelling” dat hy en ander vir
apartheidsmisdade in die tronk sit “terwyl die mense wat die opdragte
gegee het buite rondloop”.
“Eugene het vir my gesê as hy
uitkom is hy bereid om enigiemand in die oë te kyk en enige vrae te
beantwoord. Hy het niks om weg te steek nie,” het Kruger gesê.
Daar
is ook al beweer De Kock gaan op 11 Februarie in die staatsrede
kwytgeskeld word as deel van die tema “die oorlog is verby”.
Rapport
se navrae toon dat hoewel kwytskelding vanweë die grootliks vry hand
wat die president daarin het, onverwags kan plaasvind, daar drie
aanduidings (een vereiste en twee politieke tekens) is dat dit ’n ruk
gaan neem:
- Die departement van justisie moet ’n nie-bindende aanbeveling aan die president doen voor kwytskelding kan plaasvind.
Geen sodanige versoek is al deur die presidentskantoor aan die departement van justisie gestuur nie.
- De Kock se kwytskelding is nie op die kabinet se lekgotla die afgelope week bespreek nie; en
- Die ANC se alliansievennote is nog nie deur pres. Jacob Zuma daaroor ingelig nie.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.