GRS trek styf oor Teazers
2009-10-14 13:46
Kaapstad - Die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (GRS) het Teazers-ontkleeklubs se omstrede geslagstoets-advertensie afgekeur.
Die reklamewaghond het Woensdag beslis Teazers se advertensie is "neerhalend teenoor die waardigheid van die atleet Caster Semenya, asook seksueel eksplisiet."
Teazers se advertensiebord is verlede maand in Rivoniastraat, Johannesburg, opgerig, en wys 'n kaal vrou wat op haar rug lê met die slagspreuk "Geen geslagstoetse nodig nie".
Die GRS se besluit volg klagtes oor die advertensiebord deur nege mense, waarvan die meeste vroue is.
Lolly Jackson, eienaar van Teazers, het vroeër gesê die boodskap van die advertensie het niks met Caster Semenya of die debakel rondom die steratleet se geslag te doen nie.
Hy het gesê die veldtog is ontwerp om dit duidelik te maak dat werknemers van sy ontkleeklubs 100% vrou is.
Volgens Jackson is die advertensie voor die Semenya-debakel geskep.
Teazers het R20 000 aan Semenya geskenk omdat sy by die omstredenheid rondom die advertensiebord betrek is.
Die GRS het egter Teazers se verweer van die hand gewys.
"Die advertensiebord sal geïnterpreteer as 'n bespotting van Semenya se geslag en die ontbering wat sy moes deurmaak," het die liggaam gesê.
Die GRS het Teazers opdrag gegee om die advertensie terug te trek.
- Sapa