Fred getuig vandag oor verhouding met Lotz
2010-11-24 10:30
Die Burger
Kaapstad - Alle oë sal na verwagting Woensdag op hof 19 in die Wes-Kaapse hooggeregshof wees wanneer Fred van der Vyver voor regter Anton Veldhuizen in die getuiebank inskuif.
Van der Vyver sal in sy eie woorde getuig oor die verhouding met sy meisie, Inge Lotz, wat op 16 Maart 2005 in haar woonstel vermoor is.
Die regsverteenwoordiger het vroeër aan die hof gesê Van der Vyver sal ook getuig oor wat hy op dié dag alles gedoen het.
Verder sal hy getuienis lewer oor die sekerheidstelsel by sy werk, Old Mutual, nadat hy sélf ondersoekwerk hieroor gedoen het.
Van der Vyver het in Oktober 2007, toe hy nog ’n beskuldigde in dieLotz-moordsaak was, in die strafregtelike saak ook getuig.
Hy is in November 2007 onskuldig bevind aan die moord en dagvaar nou die minister van polisie vir sowat R46miljoen vir beweerde onregmatige vervolging.
Van der Vyver voer aan die polisie het hom “kwaadwillig” vervolg. Een van die bewerings was dat sy vingerafdruk op ’n DVD-houer was wat in Lotz se woonstel gevind is.
Arie Zeelenberg, senior raadgewer oor vingerafdrukke van Nederland, het Maandag getuig Van der Vyver se vingerafdruk was nié op die DVD nie.
Volgens Zeelenberg dui die vorm en eienskappe van die vingerafdruk daarop dat die vingerafdruk van ’n glas geneem is.
Zeelenberg is Dinsdag gekruisondervra.
Die hof het Dinsdag by monde van adv. Kosie Olivier SC, vir die minister van polisie, gehoor dat die staat reeds sowat drie maande voor die begin van die strafregtelike verhoor besluit het om nié met die vingerafdruk-getuienis voort te gaan nie.
Hy het verduidelik die rede waarom hulle in die strafregtelike saak besluit het om die polisiebeampte wat die afdruk geneem het as ’n getuie te roep, was om die bewerings te weerlê dat daar met bewyse gepeuter is.
Olivier het dit ook aan Zeelenberg gestel dat die polisie tydens die afneem van die vingerafdruk nie geweet het van die “bestaan” van Van der Vyver nie.
“Met ander woorde, dit is dus onmoontlik dat die polisieman wat die vingerafdruk gelig het met opset enigiets kon gefabriseer het.”
Veldhuizen het hom hier onderbreek en aan Olivier gesê dit is ’n argument wat hy nou voorlê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger