Fratsskoot eis doktor
2011-10-31 09:04
Mpumalanga – Dr. Paul Möller (60), ’n bekende wildkenner en spesialis op die gebied van jakkalsnavorsing, het homself Saterdagoggend in ’n fratsongeluk buite Balfour doodgeskiet.
Möller was alleen by die skietbaan toe hy blykbaar sy stewel se los veter vasgetrap en gestruikel het.
Dit het glo gebeur terwyl hy sy .357-rewolwer in sy hand gehad.
Toe hy neerslaan, het ’n skoot afgegaan en het hy homself in die regterslaap geskiet.
Möller sou die oggend op die skietbaan, sowat 12 km buite die dorp, aan ’n skietoefening deelneem.
Hy was die veiligheidsoffisier van die skietbaan en is vroeg die oggend reeds daarheen om die baan voor te berei.
“Hy het my net ná 06:00 van die skietbaan geskakel om te sê hy is op die baan en is besig met die voorbereiding,” het Johan Scott, voorsitter van die Duiker-tak van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging, Sondag gesê.
“Hy het nog vertel dat hy ’n paar skote met selfgelaaide ammunisie geskiet het. Die volgende oproep wat ek gekry het was om te sê hy is dood. Dit was ’n vreeslike skok,” het Scott gesê.
Toe lede van ’n ander skietklub omstreeks 07:20 by die skietbaan aangekom het, het Möller se bakkie op die 300 m-skietpunt gestaan maar hy was nêrens te siene nie.
Hulle het nader na die teikens geloop en hom gekry waar hy plat op sy maag by een van die skietpunte gelê het.
Die rewolwer het langs sy kop gelê.
Sy oormowwe was steeds om sy regterarm gehaak en sy selfoon, pet en ’n boksie met patrone het langs sy lyk gelê.
“Hy was regtig ’n man van die veld en was lief vir die natuur. Hy was ’n kundige op die gebied van jakkalse en het ’n doktorsgraad in dieregedrag gehad,” het Scott gesê.
Hy laat sy lewensmaat, Adrie de Wet, agter.
Sers. Gerald Sedibe, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld