Franschhoek-moord: slagoffer se man vas
2010-07-18 08:40
Karin Burger en Colin Hendricks
Franschhoek - “Niemand wil dit glo nie.”
So sê die beste vriendin van die vermoorde Chanel du Toit (28) van Franschhoek daaroor dat Chanel se man, Johan du Toit (26), weens die moord gearresteer is.
“Almal bid nog vir die Here. Al ons vriende bel my – niemand weet wat aangaan nie. Ons moet maar in die koerante lees wat gebeur,” sê Loesje Kock.
“Dis nog baie moeilik en seer. Ek moet nou op my werk konsentreer – dis die naweek Bastille-fees op Franschhoek. En ek het ’n dogtertjie by die huis. Ons moet aangaan.”
Op ’n vraag of sy bewus was van probleme tussen die paartjie, sê sy sy “weet glad nie” van so iets nie.
“Dis min dat jy ’n paartjie kry wat so geheg is aan mekaar en mekaar so goed verstaan.”
Die Du Toits is verlede jaar op die Dieu Donné-wynlandgoed in Franschhoek getroud.
Chanel Du Toit is 11 dae gelede in hul kothuis op dié landgoed verwurg en slegs haar trouring en selfoon word vermis.
Kock vertel Johan du Toit het verlede jaar haar man, Alfriedo Kock, se lewe gered.
“Alfriedo het ’n hartaanval gekry en ek het vir Johan gebel. Johan het met Alfriedo hospitaal toe gejaag. Die dokters sê as dit nie vir Johan se vinnige optrede was nie, was dit te laat.”
Kock, haar man en die Du Toit-egpaar was goeie vriende en het ook bekend gestaan as Franschhoek se “four blondes”.
Volgens Kock was die Du Toit-egpaar ’n span en het hulle beplan om binnekort met ’n gesin te begin. Vir nou was hul hond, Jack, hul “baba”.
Kock het Johan Du Toit ná die moord getroos. “Johan was toe baie kwaad oor gerugte in dagblaaie wat hom geïmpliseer het. Hy het nog gesê dat dinge soveel anders sou gewees het as hy nié gaan jag het nie.”
DP Burger van die Glenwood-landgoed, waar Chanel Du Toit gewerk het, beskryf Johan Du Toit as ’n “gawe klong”.
Hy sê Chanel Du Toit was ’n perfeksionis. “Sy was die administratiewe ruggraat van die plaas.”
Oor die egpaar sê hy hulle was ’n voorbeeld vir enige jong paartjie.
“Ek kon wel nie glo Johan sou alleen gaan jag nie. Die twee het altyd alles saam gedoen. Hulle was so erg oor mekaar,” sê Burger, wat die seremoniemeester op hul troue was.
Johan Du Toit het glo omstreeks 02:00 op die oggend van die moord op ’n jagtog na die Karoo vertrek. Chanel Du Toit se lyk is omstreeks 08:00 deur haar skoonma, Ronelle Kitshoff-Du Toit, gekry. Sy het gaan ondersoek instel nadat Johan Du Toit onraad vermoed het omdat hy sy vrou nie per telefoon kon bereik nie.
’n Plaaswerker wat anoniem wil bly sê sy vind dit vreemd dat niemand op die oggend van die moord enige honde hoor blaf het nie.
Konst. Marize Papier, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 26-jarige man van Franschhoek wat goed bekend is aan die oorledene Donderdagmiddag 16:00 gearresteer is.
“Hy bly in aanhouding in die polisieselle in Franschhoek totdat hy Maandag (môre) sy eerste hofdatum het en dan die geleentheid kry om te pleit,” sê Papier.
Die ondersoekbeampte, sers. Lood Muller, sê hy wil glad nie met die media praat nie.